OP DIE WIEKE VAN ONS GELOOF - Frank

 

ʼn Versoek wat ons telkemale ontvang, hetsy per epos of deur ons webtuiste, is:

          “Ek is moeg om van die een profeet na die volgende profeet te hardloop om te hoor wat Abba-Vader aan my wil sê. Ek is moeg om myself elke keer na my Pastoor te wend om te hoor of my Skepper nie miskien vir my ʼn woord deur hom wil bring nie.

          “Sê asseblief vir my wat moet ek doen om self eerstehands by my hemelse Pappa te kan hoor. Ek wil nie altyd deur ander mense van Hom hoor nie, maar begeer so dat Hy direk met my praat.”

          Ek en Hephzibah geniet dit altyd om wanneer ons die Kruger Wildtuin besoek, die aasvoëls dop te hou wanneer hulle besig is om op te styg nadat hulle klaar gevreet het. Hulle hardloop mos altyd eers so ‘n entjie - so asof hulle ʼn bietjie spoed nodig het voordat die swaar lyf die grond verlaat. Minute later sien jy dan hoe die lugstrome hulle hoog in die lug ronddra.

          Hierdie gedagtes aan die aasvoëls het deel gevorm van dit wat my gees gevul het die oggend daar by my bidplekkie toe ek aan Hom gevra het:

          “Hemelse Vader, hoe antwoord ‘n mens hierdie baie vrae oor eerstehandse kommunikasie met U?”

          Ek kwoteer graag die verduideliking van Heilige Gees in die eerste persoon net soos ek dit in my geeshuisie ontvang het.

          “Niemand, maar niemand op hierdie aarde kan My diepte peil nie. Geen menslike verstand kan My werke ten volle begryp nie.

          “Hou op om My stem in die vlees te soek.

          “Styg op en sweef op die wieke van jou geloof, want solank jy in die verganklikheid van die vlees vasgehou word en jou omstandighede jou baas is, kan Ek nie direk met jou praat nie. My eerstehandse kommunikasie kan jou nie bereik nie. Dan kan Ek net met jou praat deur My kinders wat op die lugstrome van geloof sweef.

          “My kind, maak jouself los, hardloop en styg op. Op die lugstrome van geloof sal Ek jou na hoogtes voer wat jy nooit geweet het bestaan nie. Dinge aan jou openbaar wat jy nooit gedink het vir jou beskore is nie."